|
'n Landskap van Onvergeetlike Dae
Watter
dag in ‘n landskap van onvergeetlike dae is die een wat ‘n mens sal
uitsonder in hierdie landstreek van die spreekwoordelike melk en heuning?
Daardie deel van Frankryk wat Peter Mayle letterlik op die kaart geplaas het met
die eerste van sy drie boeke daaroor, A year in Provence.
Is
dit toe jy na Gordes in die verte kyk en jou eerste blik kry op wat die Franse
“un village perché” noem, daardie aardkleurige geboutjies wat in ‘n
vreemde maar logiese patroon van ‘n heuwelpiek af in mekaar vleg na ondertoe?
Of
is dit die Saterdag wanneer jy in die straatmark in Riez luier en te midde van
sterk en oorweldigende kleure en geure die bestanddele vir ‘n piekniek uitsoek?
Dalk die Moedersdag wanneer jy in Avignon wakker word en die geluid van
beierende kerkklokke reg buite jou kamervenster as’t ware om jou vou? Of die
onvergeetlike middagete naby Moustiers-Ste-Marie waar jy by La Bastide de
Moustiers kennis maak met die veelbesproke Provensaalse middagete wat uit vyf
gange bestaan?
Dit
kan selfs die Saterdagaand op Place Crillon wees waar die inwoners en ‘n paar
verdwaalde toeriste kuier en mettertyd die simmetrie van die tientalle
tafeltjies versteur deur die stoele te draai en langbeen uit te strek, gesigte
na die weste gekeer, om die laaste strale van die sakkende son in te drink?
Jy
kan Provence ontdek soos Peter Mayle en sy vrou gedoen het. Of jy kan jouself
afsonder en soos Marita van der Vyver daar skryf. Jy kan soos ons ‘n ietsie
uit die noorde, weste, ooste en suide uitsonder en Provence só probeer afbaken
en smaak. Dit is alles moontlik, want selfs nadat Peter Mayle Provence in die
middel jare tagtig “ontdek” het, bly dit steeds een van die mees
“onontdekbare” omgewings waarvoor die deurwinterde reisiger kan hoop.
Provence
is in die suidoostelike hoek van Frankryk geleë en lê teen die Mediterreense
kus.
Die
naam Provence dateer uit die Romeinse Ryk en dit was die Ryk se eerste provinsie
buite Italië.
Die
beste tyd van die jaar om Provence te besoek is aan die begin van die
Suid-Afrikaanse winter wanneer die weer daar op sy lekkerste begin raak. Ietsie
warms vir die koel luggie wat in die aande kan opsteek en ‘n sambreel vir die
onverwagte laatmiddag-reënbui is al waarvoor jy voorsiening moet maak.
Uittreksel
uit artikel :
Zarine Roodt Die
Volksblad - 23 Junie 2001
|